Tradisionele Wildsvleispastei

In die ou dae was wildsvleis net beskore vir dié wat self jag of ’n stukkie wildsvleis present gekry het. Met soveel gespesialiseerde jagplase is wildsvleis egter deesdae algemeen by slaghuise en supermarkte beskikbaar


Wildsvleispastei Resep
 

Omdat wildsvleis min vet bevat, hou ek daarvan om spek, room en botter te gebruik. As ek ’n gereg maak, blaai ek deur my kookboeke vir ’n lekker resep en maak dan sommer my eie weergawe daarvan.


My raad is om te proe namate die kookproses vorder. Ek moet bieg dat ek graag Aromat gebruik. Maak seker jy het die volgende bestanddele: 500 g lamskenkels (in skywe gesny); 2 kg wildsboud, -blad of -filet (in ±3 cm-blokkies gesny); 300 ml karringmelk; 250 g-pakkie spek (in stukkies gesny); 50 ml botter; olie vir bruin braai; 1 groot gekapte ui; 6 fyngemaakte knoffelhuisies; 50 ml koekmeelblom; sout; baie varsgemaalde swartpeper; Aromat; 10 ml fyn koljander; 500 ml vleisaftreksel; 250 ml rooiwyn; 400 g bereide skilferkors; 1 heel ui; 4 lourierblare; 250 ml room.


Gaan nou soos volg te werk: Plaas die wildsvleis in ’n glas- of plastiekhouer, bedek dit met karringmelk en bêre dit in die yskas vir 2 tot 3 dae. Haal dit daarna uit die yskas, gooi die karringmelk weg en druk die vleis met ’n papierhanddoek droog. Braai nou die spek in verhitte botter in ’n groot swaarboompot tot bros en skep dit uit. Braai dan die ui tot sag en deurskynend en voeg die knoffel by. Skep dit uit en voeg dit by die spek. Gooi olie in die pot en braai die lamskenkels tot goudbruin. Skep dit uit en hou dit eenkant

Geur die meelblom met sout, peper en Aromat en strooi dit oor die wildsvleis. Braai ’n paar blokkies wildsvleis op ’n slag in botter en olie oor stadige hitte tot goudbruin. Plaas daarna alles terug in die pot. Voeg die koljander, lourierblare, aftreksel en rooiwyn by en prut vir 3–4 uur totdat die vleis van die been afval en sag is. Hou dit dop terwyl dit prut en voeg ekstra vloeistof by indien nodig. As dit klaar geprut het, laat dit afkoel, verwyder die bene en plaas dit terug in die vloeistof. Proe nou daaraan en geur dit na smaak


Voeg laastens die room by en roer dit deur. Laat die vleis heeltemal afkoel en plaas dit dan in ’n groot pasteiskottel of individuele pasteibakkies. Om ’n groot pastei se deeg te steun, plaas die geskilde ui bo-op die vulsel in die middel van die bak. Bedek nou die vleis met ’n laag skilferdeeg en versier dit met repies deeg. Steek ’n paar gate in die deeg sodat die stoom kan ontsnap. Verf geklitste eier oor die deeg en bak die pastei ongeveer 45 minute teen 180 °C of tot goudbruin.


Pasteie kan vooraf gemaak en gevries word voor dit gebak word. Wanneer die gaste aansit om aan hierdie geurige wildsdis te smul, skink gerus vir elkeen ’n glasie goeie rooiwyn. Smaaklike ete!

on 0